Come and meet Lindes, Susan and the devoted young staff of Boesmanland Plaaskombuis.
Susan has a passion for making food the old traditional way – like her ma (mother) use to. All the dishes are prepared on open fires in big black pots every day and served on enamel plates. Their famous Soetsuurdeeg bread is prepared with a salt and potato ferment yeast and baked in a wood fired oven.
CLICK ON ANY OF OUR STORIES BELOW
WHAT MAKES US SPECIAL ?
We are located right on the beach at Club Mykonos, Langebaan, with spectacular views of the Atlantic Ocean.
Boesmanland Farm Kitchen prides itself on cooking all their food in big black pots on open fires. Phone Susan or Lindes and book now to come see for yourself.
The famous Boesmanland Farm Kitchen Soetsuurdeeg bread is an excellent companion to real farm butter – all freshly prepared on the premises.
Boesmanland can be associated with the aromas of good food, friendly crackling fires and the soothing sound of the sea.
N BRIEF VAN SUSAN
A letter from Susan in her native tongue, Afrikaans. If you do not understand Afrikaans ask Susan about her childhood on your next visit.
Ken jy vir Pofadder? Weet jy waar dit lê?
In die Boesmanland. Vra my – ek is daar gebore. Baie mense vra my: waar kom jy aan die idee van die Boesmanland Plaaskombuis?
Ek het in so ’n kombuis grootgeword.
Wat ek doen, doen ek met my hart en met my siel. Om dit behoorlik te kan doen moet jy in so ’n kombuis grootgeword het. Wat ek hier doen lê in my bloed, dit loop in my are en sit in my vel. Die klank van potte en panne sit in my ore vanaf voor my geboorte. Die reuk van boerbrood, skaapkop, kaiings, gebraaide vet, soetsuurdeeg, roosterkoek… ag sommer die reuk en klank van kombuis en kos, sit tot in my siel. Vandag bak die mense brood met yeast en dan noem almal mos dit tuisgebakte BOERbrood maar dit is tuisgebakte BROOD. Ons brood is BOERBROOD. Aartappels suurdeeg. Ons eie tuisgemaakte yeast, die natuurlike manier. Met ’n halwe aartappel, ’n paar eetlepels sout, suiker, lou water en meel maak jy suurdeeg wat oornag in komberse toegedraai word. More oggend moet dit oorgesuur word en as dit reg is gooi jy dit in die meel en gooi smeer by en bak boerbrood.
Dit is ’n hele proses en ek sê altyd dit is ’n kuns.
Daar is eintlik nie ’n resep nie.
Dit is alles ’n aanvoeling.
Jy moes in so ’n kombuis grootgeword het… Die reuk van suurdeeg, panne wat vroegoggend in die kombuis raas, ma wat hardloop en alles doen voor die deeg koud word, die reuk van hout stowe. Dit moet alles in jou bloed lê. Behalwe Boesmanland Plaaskombuis is daar sover ek weet nie nog iemand wat dit elke dag bak nie. Ons suur elke aand in. Knie elke oggend vroeg 25kg meel met die hand. Ons voorsien 5 jaar lank al soetsuurdeeg brode aan plaaslike winkels en lewer soetsuurdeegbeskuit af aan 4 van Spar kettinggroep se groot winkels. Ek wil amper sê ek daag enige ander ou uit om my te kom beat om hierdie suutsuurdeegbrode elke dag so suksesvol onder dieselfde druk en tempo te kan bak. Ons gebruik ook nog van die regte ou buite oonde sonder termometer.
Toe ek Boesmanland begin het, het mense gepraat van… die vrou is mal… Weinig het my ’n kans op sukses gegee. Op die seiljagte hieronder ons, het die mense nie eers ’n sixpack bier op my sukses wou verwed nie.
My plan.
1.Het die mooiste perseel met die wonderlikste see uitsig gaan soek wat so bietjie uit die beskawing se oog is.
2.Het al my personeel bloedjonk – almal was onder 22 jaar aangestel. Niemand het nog een dag in ’n restaurant gewerk nie en het ook geen opleiding van enige aard gehad nie. Niemand het geweet hoe om regtig skottelgoed te was nie, vloere te was, brood en beskuit te bak, kos te kook, vloere te vee en om ’n vuur aan te steek nie. Mense het gesê ek moet van die ouer garde aanstel, wat ten minste weet hoe om in te suur en om ’n buite oond se temperatuur met die hand te meet. My doel was juis om die jong klomp te leer wat ek as ’n jong mens nog by ’n vrou van 93 geleer het. So kan tradisie weer voortgaan en nie uitsterf nie en ek het ook geweet dan doen hulle dit soos ek dit wil hê en nie soos iemand anders hulle geleer het nie. Om by my te leer hoe om in te suur en om kos in die groot swart potte te kook was die personeel se nagmerrie. Reg van die begin af het ons lekker kos gekook maar wat die mense nie geweet het nie, was dat die eerste jaar vir ons almal doodwerk en hard leer was. Foute het ons gemaak, altyd die humor daarin probeer sien en deeglik daaruit geleer. Vir my personeel is ek vandag ma en hulle is die manne wat in ma se kombuis kan werk, lag leer en nogmaals doodwerk. En wat is dan nou lekkerder as ma se kombuis.
3.Ek het van ’n restaurant bedryf niks geweet nie, het maar geleer vir ’n skooljuffrou maar onderneem om ’n groot plek wat 220 mense kan hanteer te begin. ’n Heeltemal nuwe konsep in Suid-Afrika.
Baie dankie Derek, Derette, Ouma Annie (Ma), Ou Sanna, Pofadder, Eduard, Club Mykonos en al die baie goeie mense van Langebaan en die omgewing wat so goed vir my is en was, my wonderlike kliente, maatskappye en instansies, my personeel en die Man van my groot geloof.
My geskiedenis.
My ma was ’n paar dae ouer as 46 toe ek gebore is. Sy is vandag 93 en ek is haar 9de en jongste kind. Plase was maar moelik om te boer met al die droogtes, ons was seker nie ryk nie, maar ons het dit nie eens geweet nie. Daar was soveel liefde, warmte en geluk. Die ma van my, het ek net in die kombuis geken. Dit is ook oor die groot rol wat sy en ou Sanna, ma se suster, in my lewe gespeel het en omdat ek hulle ou resepte en manier van doen gebruik in die Plaaskombuis, ook omdat hulle hulle hele lewe gewy het aan ons 9 kinders se opvoeding en geluk. Daarom dink ek verdien die twee om op my logo te wees. Dit beskou ek as ’n eer wat ek aan hulle wil bewys. Ma se hele lewe het net om kosmaak en skoonmaak gedraai. Omdat daar niks anders was om op die plase te doen nie, het jy ook maar gedoen wat jy sien ma doen. Om seep te kook saam met ma in die groot swart potte op die oop vure en die loog te proe, om in te suur en brood te bak, om slagdag te beleef en die galblaas of waterblaas van die skaap te kry om mee te speel en om die skeertyd op die plaas te kon beleef was maar ’n paar van die hoogtepunte.
1. My eerste pophuis toe ek my verstand gekry het was agter ma se kombuisdeur, tussen die kombuisedeur en die yskas. Tot my netjiese ma se frustrasie, maar sy kon my tog besig hou en onder haar voete uithou. My ouer susters het iewers vandaan waar hulle studeer het vir my ’n piepklein stofie, wasmasjien, wasbak en yskas gebring. Niks kon op hulle oopmaak of werk nie maar dit was die wonderlikste speelgoed. Daarmee het ek vir my ’n kombuis uitgepak met potte, panne en alles. My pop is uitgepak en vir haar is kos gekook. Die kos was sommer net niks. Alles is maar so kamma-kamma gedoen.
2. My tweede pophuis. Dit was die wonderlikste huis van my kinderdae. Dit was my kalkklippophuis. Jy het arms vol wit kalkklippe opgetel. Jy kon jou uitlewe. Groot stoepe vir die warm dae in die boesmanland se son. Groot kombuise, slaapkamers, en dan tog die toilet. Ons het net longdrop en kleinhuisie geken. Op die dorp het jy die spoeltoilet by ander mense gesien en dit het jou so getrek dat jy dit eerste in jou huis ingebou het. Daarvoor het die ou wasmasjien se arm wat die wasgoed skoon geslaan het goed gewerk. Jy het hom net omgedraai. Om die huis te bou was baie maklik. Jy het net jou arms vol witklippe nodig gehad. Dan het jy geloop en jou plan met jou voet in die sand getrek. Die voetplan is dan op die lyne met witklippe teenmekaar uitgepak sodat die wind die huis nie elke nag doodwaai nie. Die skape op die plaas het party nagte deur die deur die huise geploeg, maar die was pa se skape en jy het maar weer die volgende dag reggemaak. Moenie dat iemand sommer oor jou mure klim om in die kamers te kom nie, dit was moeilikheid. Hulle moes in jou gang afloop en by jou deure ingaan. My ouer suster het haar huis gehad en ek myne. My broer het altyd kom kuier. Vandag is ek baie lief vir hom – daardie tyd het ek hom gehaat. Hy het altyd ’n groot wit klip in elke hand gevat. Sy hande langs hom uitgestrek, nader gehardloop en soos ’n vegvliegtuig gedreun. Dan hardloop hy oor en deur jou huis en gooi bomme af. Sy wit kalkklip bomme het oral geval waar hulle nie moes val nie. As die son sy kop soggens lig was ons in die pophuise en daar moes ma haar vannaand as dit al sterk donker is doodsukkel om ons uit te kry. Moeg, honger, verbrand en gebars van die stof moes sy dan sukkel om jou in ’n kom gewas te kry. Die kos in hierdie klippophuis was wille soutslaai vir vleis, growwe vleiklippies vir rys, grasstokkies vir macaronie en die brood was gebak van droe boorgatklei. Dit is so ’n vaal poeierklei en hy het beter gebind as Boesmanlandsand. Dan maak jy hom nat. Neem ’n lee vuurhoutjiedosie, spoel dit uit met water, dan met droog rooi sand, druk nou die nat boorgatklei daarin vas. Keer dit dadelik uit op ’n gelyk stuk sand en laat oornag staan om droog te word. More het jy ’n lekker broodjie. Jou broodmes was ’n stukkie ystersaag wat jy op ’n ashoop gaan optel het. Daar was nie met regte goed of regte kos gespeel nie. Al jou meubels en potte het jy op die ashoop gekry. Myle geloop agter die ryk bure se ashope aan. Visblikke was potte. Leeg vierkantige potte was tafels, stoele, stowe en yskaste. Beddens het jy sommer in die sand geteken. Banke en goed ook as jy nie blikke kon kry nie. Borde was plat plaatjies. Opskepbakke was halwe gebreekte vicks potjies. Kan nie onthou of ons messe en vurke gehad het nie. Dit was my lekkerste pophuis.
3. My derde pophuis onthou ek as klein en ek was altyd bang vir slange as ek daar ingaan. Dit was onder die watertank. Die tank het twee sye gehad wat klaar gebou was. So op ’n manier het my broer, suster en ek dit toegebou en toe hulle skool toe gaan het dit net myne geword. Die meubels hier was maar kartondose, houtkissies en gekoopte blikbordjies en bekertjies wat my susters maar weer gebring het. Kos het ons sommer in ma se huis gevat wat al klaar gaar was en net gemaak of ons dit kook. Daar het ons ook ons pop gehad. Dit gebad en droog gemaak en kos gegee.
4. My vierde pophuis. Dit was nogal gewaag en ons kon die veld afbrand. Toe het ons regtig begin kos kook. Jy het die kruiwae gevat en jou goed op hom gepak en vir die dag veld toe getrek. Pa se velletjiesmatte – die hesing matte waarop die lammetjies se velletjies gedroog was – is op die kruiwae gelaai. ’n Moter se ou mudguard was gelaai. Dit is jou stoof. Dan pak jy so drie leeg visblikke vir potte. ’n Stuk brood, stuk rou vleis, rou aartappels en rys met ’n potjie sout. Geen borde en messe. Jy eet met ’n teelepel sommer so uit die blikpot uit. Nou stoot jy die kruiwae met sy pakeraas tot by ’n lekker boompie. So het ons veertig jaar gelede ’n ring wat in ’n luckypacket was met ’n groot A op om die klein boompie se stam gesit, en dit sit vandag nog so diep vasgegroei in die boompie op die plaas. Ons ma het altyd gesê die kinders speel daar in die ramkampie by die boompie. Amper die enigste boompie op die plaas en was toe so hoog soos my kop. Nou ja as jy by die boompie kom dan bou jy nou vir jou ’n skerm van die velletjiesmatte. Jy tel hout op en pak dit onder die ou mudguard in en steek dit dan aan die brand. Dan kook jy jou vleis in die een visblik met die aartappel. Ander visblik met rys en een visblik met kookwater vir swart soet koffie later. Dit was so ’n vuil en rou kokery, maar ons het nooit siek geword nie, net lekker gespeel. My ma was so besig om huis te hou vir haar kinders dat sy nie regtig geweet het hoe foeter ons op nie. Haar hart sou gaan staan het. Ek het toe nie meer susters of broers gehad wat nog in die skool is nie, so ek het maar die werkers op die plaas se kinders saamgesleep en vir hulle gekook.
5. My vyfde pophuis. Toe raak ek grand. My heel oudste broer wat kom boer het, het vir hom ’n huis gebou net so ’n entjie van my ouers se huis af. Na ’n paar jaar se boer trek hy toe dorp toe en koop vir hom ’n kafee en help my ouers om sommer net van die dorp af te boer. Toe trek ek en my poppe en my glas eetstel wat my oudste susters vir die twee jongstes gekoop het in die huis in. My ma gee vir my haar ou parafien voetstofie. Houtkissies vir meubels, ma se een ekstra bed wat sy daar stoor en ’n leeg badkamer met ’n bad. Boeta! toe hou ek huis vir al die bure se kinders. Pa kry koffie wat yskoud is. Daar word regtig gekook en aangebrand. As die skool begin dan kom ma maar skoonmaak waar ons gelos het. Ons begin toe mossies skiet met die airgun. Daar kom my suster se seun toe by wat so twee jaar jonger as ek is. Toe begin die lekker gesonde kattekwaad. Ons spring van die motorhuise se dakke af. Skiet mossies en kook kos. Span vislyn deur die pophuis se dak en maak mossiebiltong. Trek die mossie se vere af, dan trek jy die vel af. Nou gooi jy sout en dan hang jy die mossie met bene en al op. Jy versnit hom darem. Later as die skool begin moet ma die droog borsies, bene en karkasse kom weggooi. Sakke vol daarvan.
6. My sesde en laaste kinderpophuis. Dit was op Pofadder agter die koshuis se watertenks en agter die hoenderhokke. Selfs die weeluise in die hoenderhokke kon my nie afsit nie. Daar het ek geen kos of speelgoed gehad nie. Net boorgatklei en vuurhoutjiedose om brood te bak en ek het al die kinders wat wou leer, geleer om modderbrode te bak. In die aand het ek altyd die juffrou aan diens gesoebat om my uit die studiesaal te laat, my werk is klaar en ek wil gaan speel. Het nooit van enige ander kind geweet wat dit mag gedoen het nie, maar ek is weinig of ooit geweier om te mag gaan. Dit was nou in my twee kleuterskool jare. Daarna het die belangstelling vir die pophuis eers gaan lê.
…………………………………………….
Ek het grootgeword, skooljuffrou geword, getrou met drie kinders en later self een kind gehad. So het ek toe maar vir my man en klomp kinders huisie-huisie gespeel. Tot en met standard 7 op Pofadder het jy mos maar in jou eie geslote wêreldjie geleef. Dit was nogal vir my ’n skok en ’n aanpassing om standerd 8 in die Paarl te moet kennis maak met die groter wêreld en die realiteite van die wêreld. Toe ek nog met my ouer man trou en tussen sy ouer en wyser vriende beland, was ek nogal geneig om ’n mening vir myself te hou en nie my oningeligtheid te wys nie. So was ek by verskeie glansgeleenthede aan ’n eettafel waar al die wyse en ouer dames oor die ete se wonderlike boerekos in vervoering gegaan het. Dan wou ek vir hulle sê, maar waarvan praat julle, dit is opgekookte vaal waterkos. Ken julle dan nie regte boerekos nie. Maar ek het net stilgebly en dan het ek gedink toemaar eendag sal ek vir julle regte boerekos kook. Mense wat by ons aan huis gekom het het hulle altyd doodgeëet aan my kos. Vakansies het ons huis in Langebaan altyd soos ’n hotel van mense en kinders gelyk. My broers en susters wou nie kom kuier nie, want hulle het gesê daar is altyd mense by ons.
…………………………………………….
Nou so word my dogter toe ook groter en toe sy hoërskool toe gaan begin ek vir sakgeld klere maak vir boutieks. Ek kon nie in die klein wêreldjie van n naaimasjien oorleef nie en is toe weer terug na die onderwys tot die regering my daaruit gehaal het vir regstellende aksie en ek as getroude vrou moes die onderwys los om plek te maak vir die jonges.
…………………………………………….
Toe besluit ek my ma moet vir my leer hoe om soetsuurdeegbrode te bak. Ek het die basiese in die huis geleer maar dit was nie ver goed genoeg om boerbrood te bak nie. ’n Vriendin, Frieda van Pofadder, wat toe net so ’n entjie van my af bly kom my toe wys en toe kom my ma by my bly en leer my behoorlik die trieks. Ek wou dit net leer om vir my ma na die ouetehuis brood en beskuit te neem, want ek kon dit nerens koop nie, al wou ek ook al my geld betaal. Dit was wat my ma die graagste wou he. Ook wou ek net bietjie verkoop aan n tuisnywerheid om my kind op universieit met sakgeld te help. Die bakkery begin toe in my huis. Later word dit te groot en ek skuif dit na my garage, later begin ek nog oonde aankoop en nog mense aanstel. Toe raak die garage te klein en toe betrek ek die woonstel langs die garage ook. Nie lank nie of die is ook te klein. Dit en nog ’n persoonlike krisis laat my toe besluit nou nou is die regte tyd om uit te klim en daardie regte boerekos waarvan ek die mense nooit vertel het nie te gaan maak. As die regte ou boerebeskuite vir die mense so lekker is en ’n sukses is om te bak dan sal hulle van regte boerekos ook hou. Nadat ek die besluit geneem het was dit net asof dinge vir my so bestem en bedoel was. Dit was asof dinge net vir my beplan was. Dit is ongelooflik harde werk, maar ek geniet omtrent elke oomblik daarvan.
Wat ek as baie uniek aan ons plek beskou:
1. Die ligging word daagliks deur toeriste as die beste ter wêreld beskryf.
2. Die atmosfeer word daagliks deur toeriste as die beste ter wêreld beskryf.
3. Dit is opelugeetplek met ’n heeltemal nuwe konsep.
4. Opelug maar bietjie meer gemaklik.
5. Dit is weer egte boerekos.
6. Die ou manier van dinge doen, maar wel deur jong mense.
7. Ons kook weer al die kos buite op oop vure in reuse swart potte, maak weer regte moerkoffie wat in sy sak gebrou word.
8. Jy help jouself en eet wat jy wil, wanneer jy wil, hoe jy wil en hoeveel jy wil.
9. Haal self jou koffie van die Dowerstofie af en skep self jou kos uit reuse swart potte met reuse lepels.
10. Het weer ’n plek waar regte boerbrood en boerbeskuit te koop is.
11. Kliente dink vir nasiebou, spanbou, en nog vele meer is dit die ideale plek, want die atmosfeer maak dit net soveel makliker vir mense om te ontspan en mekaar te bereik.
12. Dit is weer ’n plek waar enige jongmens wat wil kan kom leer wat tradisie is.
13. Weer speel geen rol nie. Mooiweer maak ons die seile en skuifdeure oop en sit u op die strand. Slegte weer trek ons die seile en skuifdeure toe.
14. Hier kan jy voel hoe dit is om met styl uit ’n blikbord te eet en sop en moerkoffie uit ’n blikbeker te drink.
’n Plek soos Boesmanland Plaaskombuis kan ’n mens nie regtig in woorde beskryf nie. Dit is ’n ervaring. Kom kuier gerus.
Vriendelike Boesmanland groete,
Susan
SOETSUURDEEG BREAD
The famous Boesmanland Farm Kitchen Soetsuurdeeg bread is prepared with a salt and potato ferment yeast and is presented with farm butter and a variety of home made jams. An excellent companion to real moer coffee – all served in authentic enamel crockery. Fresh bread is baked daily. Early every morning Susan and the staff prepares the yeast.